Friday, October 17, 2008

HERSIENE KURRIKULUMVERKLARING VIR AFRIKAANS EERSTE ADDISIONELE TAAL GRAAD 10

Raadpleeg http://www.education.gov.za/Curriculum/firstLanguages.asp

ASSESSERINGSRUBRIEK VIR ONVOORBEREIDE LEES

TAAL

VLAK 4 (5)
Korrekte uitspraak van woorde.
VLAK 3 (4)
Min foute wat betref die uitspreek van woorde.
VLAK 2 (3)
Spreek woorde in ‘n mate korrek uit.
VLAK 1 (0-2)
Spreek woorde verkeerd uit.

AANBIEDING

VLAK 4 (5)
Gehoor se aandag bly deurentyd behoue. Stemtoon wissel soos nodig. Uitstekende gebare.
VLAK 3(4)
Gehoor se aandag vir ‘n tyd lank behoue. Stemtoon wissel vir ‘n ruk, daarna geensins. Maak gebruik van gebare tot op ‘n punt.
VLAK 2 (3)
Poog om gehoor se aandag te trek. Poog om stemtoon te wissel. Gebare irrelevant.
VLAK 1 (0-2)
Trek geensins gehoor se aandag nie. Praat op een toon deurentyd. Maak geensins gebruik van gebare nie.

ASSESSERINGSRUBRIEK VIR ONTWERP VAN KAARTJIE VIR MOEDERSDAG

TAAL

VLAK 4 (5)
Innoverend. Goeie sinsbou. Korrekte spelling en gebruik van leestekens.
VLAK 3 (4)
Minimale foute in taalgebruik, spelling en leestekengebruik.
VLAK 2 (3)
Woordeskat voldoende. Al hoe meer spel- en struktuurfoute kom voor.
VLAK 1 (0-2)
Beperkte woordeskat. Te veel spelfoute en swak sinskonstruksie.

AANBIEDING

VLAK 4 (5)
Trek dadelik aandag. Kleurvol en netjies.
VLAK 3 (4)
Aandag bly deurentyd behoue. Maak gebruik van kleure, struktuur aanvaarbaar.
VLAK 2 (3)
Aandag bly nie deurentyd behoue nie. Maak gebruik van beperkte kleure.
VLAK 1 (0-2)
Trek geensins aandag nie. Maak geensins gebruik van kleure nie, netheid nie op standaard nie.

VOORBEELD VAN OPDRAG VAN VORIGE JAAR

Opdrag:

Na aanleiding van die aantekeninge wat jy oor die onderstaande gedig ontvang het en deur melding te maak van jou eie ervaringe, bespreek die volgende in groepe van twee:
Noem die emosies wat ‘n mens ervaar met die intrapslag by ‘n eksamenlokaal.
Identifiseer watter van jou vakke ooreenstem met die van die student in die gedig.
Doen navorsing binne groepsverband en gee voorbeelde van studiemetodes wat in ag geneem behoort te word ter voorbereiding van toetse en eksamens.

EKSAMEN HERINNERINGE

Ek het nog 55 bladsye van die senuweestelsel oor,
en is besig om stadig maar seker my kop te verloor.
Dis kwart voor 10 in die aand,
ek is besig met eksamen, dis Juniemaand.

In die agtergrond speel “I’m leaving on a jet plane”,
wens ek kon van die aardbol verdwyn.
My oë raak so swaar soos lood,
die kans dat ek gaan slaap vergroot.

Ek besluit om die badkamer te gaan opsoek,
voor ek aan die slaap raak bo-op my Biologie boek.
Teen eenuur roep ek Dekker vaarwel,
sy teorie is Engels, dis loutere hel!

In Poskaarte is ek besig om van postmodernistiese gedigte te lees,
meer as die helfte minder werk as Biologie, wat ‘n fees!
Fokofpolisiekar is deel van die leerwerk,
as ek druip gaan ek defintief vra vir ‘n hermerk.

In my gedagtes sien ek Karen Zoid rondspring op die verhoog,
dis ‘n jammerte die ouer garde wil gedurig teen haar betoog.
Antjie Krog het baie te sê oor Gert Vlok Nel,
vir my is dit nie beskore om hom te hê as ‘n pel.

Teen vieruur kan ek nie langer konsentreer,
maak nie saak hoe hard ek probeer.
My brein is besig om off te log, dis hoog tyd.
Wanneer hy vir ewig gaan shut down, dis Liewe Jesus se besluit.

Estelle Botha

OPDRAG VIR 2008 - ONTWERP KAARTJIE VIR MOEDERSDAG



Na aanleiding van die aantekeninge wat aan jou beskikbaar gestel is oor rympatrone, word daar van jou verwag om ‘n kaartjie te ontwerp vir Moedersdag. In terme van die bewoording van die boodskap aan jou ma – jy moet gebruik maak van paarrym. Daar word ook van jou verwag om gebruik te maak van prente en kleur in die versiering van die kaartjie. Waar moontlik – laat ‘n maat jou opdrag bestudeer vir spelfoute. Hulle sê mos immers twee koppe is beter as een. Onderaan is voorbeelde van prente wat julle kan gebruik.














OPDRAG VIR 2008 - ARTIKEL VIR ONVOORBEREIDE LEES

Bankvas in graad 10

John Golaith

________________________________________

TERWYL die 2003 matrieks in die Drakenstein-gebied uitgeblink het, het talle leerlinge wat verlede jaar in graad tien was, 'n nagmerrie-jaar beleef. Tot 40% van dié standerd het gedruip.
Dié leerlinge het nog uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) in graad nege gedoen, waar hulle pleks van inhoud te leer vir eksamens, praktiese en navorsingsprojekte voltooi het.
Verlede jaar, in graad tien, het dié leerlinge na die "tradisionele" manier van onderwys oorgeskakel, met die klem op memorisering en eksamens - en groot getalle het gedruip.
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, André Gaum, sê daar moes oorgangsmaatreëls vir 2003 se graad tiens gewees het omdat hulle moes terugskakel na die ou kurrikulum.
Die departement het 'n aksieplan vir 2004 bekend gestel om die probleem te probeer oplos.
Obos-kantore sal in die eerste en tweede kwartaal dié jaar in die namiddae werkswinkels vir onderwysers aanbied oor die hantering van die gapings in die kurrikulum.
Vakke sal in die oorgangstydperk ook gemonitor word om kwaliteit te verseker.
Skoolhoofde praat uit een mond soos die hoof van Klein Nederburg Sekondêr, Douglas Abels.
"Die uitslae van die graad tiens was baie teleurstellend.
"Kinders weet nie meer hoe om te leer of hoe om lang vraestelle te antwoord nie.
"Gewoonlik is die slaagsyfer van die graad tiens sowat 90% by die skool, maar laasjaar het bykans 20% van die klas gesneuwel en nou sit ons met oorvol klasse."
Dié skool gaan die probleem probeer regstel deur werksessies oor leemetodes vir die leerlinge aan te bied, maar daarvoor sal kostes aangegaan moet word.
Die skool bars ook tans uit sy nate met sowat 1400 leerlinge waar daar plek is vir 800.
In die meeste hoërskole is daar klasse met tussen 45 en 50 leerlinge. In een graad tien klas is weens vakkeuse, 56 leerders.
Dudley October, hoof van Charleston Hill Sekondêr, sê met dié skool se graad tiens het dit in 2003 glad nie goed gegaan nie. Ook hier het 20% gedruip.
Daar is sowat 1130 leerlinge (baie van die druipelinge het nie teruggekeer nie) en daar is "net-net" genoeg onderwysers om dié leerlinge te akkommodeer.
Ook die Desmond Tutu Hoërskool in Mbekweni ly nou aan 'n massiewe bottelnek van graad tiens.
Waar daar verlede jaar 800 graad tiens in twintig klaskamers was, het die skool vanjaar 1070 graad tiens en meer as vyftig leerlinge in 'n klas.
Basjan Reinhardt, hoof van Hoërskool Gimnasium, sê sy graad tiens het baie moeilik by die stelsel aangepas.
"Onderwysers het uit hul pad gegaan om dit so gemaklik as moontlik vir hul leerlinge te maak, maar dit was steeds moeilik vir die kinders om inhoudsvakke te leer."
Die skool het reeds begin beplan aan 'n strategie om die aanpassing makliker vir graad tiens te maak.
Lenard Moses, hoof van Bergrivier Sekondêr op Wellington, het sy graad neges met addisionele opstelle en wiskunde probeer voorberei.
"In graad 9 is vaardighede bygebring, maar sodra dit kom by individuele studie en eksamentoetsing, dan slaag die leerder nie."
Volgens die hoof van Hoër Jongenskool Paarl, Louis Knoetze, was hulle voorbereid op die probleem.
Hulle het die graad neges van 2002 voorberei vir wat hulle met die "nuwe" stelsel kon verwag.
"Die kinders is geleer om groot hoeveelhede werk te kan hanteer sodat die eksamenvraestelle nie 'n skok is nie."
Verlede jaar se graad neges het, benewens die nasionale eksterne eksamen intern ook moeiliker vraestelle geskryf in die sleutelvakke.


Golaith, J. (2004). Bankvas in graad 10. Beskikbaar te: http://www.paarlpost.com/archive/290104/news.html (geraadpleeg op 14 Oktober 2008).

KLASREËLS

KLASREËLS

1) Geen eet- of drinkgoed word in die klaskamer toegelaat nie.
2) Wangedrag word nie toegelaat in die klaskamer nie. Leerders wat hulle aan wangedrag skuldig maak sal versoek word om die klaskamer te verlaat.
3) In geval waar jy klastoetse of opdragte gemis het weens siekte moet jy die onderwyser van ‘n doktersbrief voorsien, of alternatiewelik ‘n verklaring van die polisie.
4) Jy mag onder geen omstandighede jou werk beskikbaar stel aan maats vir die doeleinde om huiswerk af te skryf nie, en jy mag ook nie ander se werk afskryf nie.
5) Leerders mag onder geen omstandighede die klaskamer verlaat tydens klastyd sonder toestemming van die onderwyser nie.
6) Dit is jou verantwoordelikheid om dit onder die aandag van die onderwyser te bring indien daar werk is wat jy nie verstaan nie.
7) Jou skrifte en handboeke moet elke dag by die skool wees.


___________________________ ________________________
HANDTEKENING VAN LEERDER HANDTEKENING VAN OUER


________________________________
HANDTEKENING VAN ONDERWYSER