Friday, October 17, 2008

OPDRAG VIR 2008 - ARTIKEL VIR ONVOORBEREIDE LEES

Bankvas in graad 10

John Golaith

________________________________________

TERWYL die 2003 matrieks in die Drakenstein-gebied uitgeblink het, het talle leerlinge wat verlede jaar in graad tien was, 'n nagmerrie-jaar beleef. Tot 40% van dié standerd het gedruip.
Dié leerlinge het nog uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) in graad nege gedoen, waar hulle pleks van inhoud te leer vir eksamens, praktiese en navorsingsprojekte voltooi het.
Verlede jaar, in graad tien, het dié leerlinge na die "tradisionele" manier van onderwys oorgeskakel, met die klem op memorisering en eksamens - en groot getalle het gedruip.
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, André Gaum, sê daar moes oorgangsmaatreëls vir 2003 se graad tiens gewees het omdat hulle moes terugskakel na die ou kurrikulum.
Die departement het 'n aksieplan vir 2004 bekend gestel om die probleem te probeer oplos.
Obos-kantore sal in die eerste en tweede kwartaal dié jaar in die namiddae werkswinkels vir onderwysers aanbied oor die hantering van die gapings in die kurrikulum.
Vakke sal in die oorgangstydperk ook gemonitor word om kwaliteit te verseker.
Skoolhoofde praat uit een mond soos die hoof van Klein Nederburg Sekondêr, Douglas Abels.
"Die uitslae van die graad tiens was baie teleurstellend.
"Kinders weet nie meer hoe om te leer of hoe om lang vraestelle te antwoord nie.
"Gewoonlik is die slaagsyfer van die graad tiens sowat 90% by die skool, maar laasjaar het bykans 20% van die klas gesneuwel en nou sit ons met oorvol klasse."
Dié skool gaan die probleem probeer regstel deur werksessies oor leemetodes vir die leerlinge aan te bied, maar daarvoor sal kostes aangegaan moet word.
Die skool bars ook tans uit sy nate met sowat 1400 leerlinge waar daar plek is vir 800.
In die meeste hoërskole is daar klasse met tussen 45 en 50 leerlinge. In een graad tien klas is weens vakkeuse, 56 leerders.
Dudley October, hoof van Charleston Hill Sekondêr, sê met dié skool se graad tiens het dit in 2003 glad nie goed gegaan nie. Ook hier het 20% gedruip.
Daar is sowat 1130 leerlinge (baie van die druipelinge het nie teruggekeer nie) en daar is "net-net" genoeg onderwysers om dié leerlinge te akkommodeer.
Ook die Desmond Tutu Hoërskool in Mbekweni ly nou aan 'n massiewe bottelnek van graad tiens.
Waar daar verlede jaar 800 graad tiens in twintig klaskamers was, het die skool vanjaar 1070 graad tiens en meer as vyftig leerlinge in 'n klas.
Basjan Reinhardt, hoof van Hoërskool Gimnasium, sê sy graad tiens het baie moeilik by die stelsel aangepas.
"Onderwysers het uit hul pad gegaan om dit so gemaklik as moontlik vir hul leerlinge te maak, maar dit was steeds moeilik vir die kinders om inhoudsvakke te leer."
Die skool het reeds begin beplan aan 'n strategie om die aanpassing makliker vir graad tiens te maak.
Lenard Moses, hoof van Bergrivier Sekondêr op Wellington, het sy graad neges met addisionele opstelle en wiskunde probeer voorberei.
"In graad 9 is vaardighede bygebring, maar sodra dit kom by individuele studie en eksamentoetsing, dan slaag die leerder nie."
Volgens die hoof van Hoër Jongenskool Paarl, Louis Knoetze, was hulle voorbereid op die probleem.
Hulle het die graad neges van 2002 voorberei vir wat hulle met die "nuwe" stelsel kon verwag.
"Die kinders is geleer om groot hoeveelhede werk te kan hanteer sodat die eksamenvraestelle nie 'n skok is nie."
Verlede jaar se graad neges het, benewens die nasionale eksterne eksamen intern ook moeiliker vraestelle geskryf in die sleutelvakke.


Golaith, J. (2004). Bankvas in graad 10. Beskikbaar te: http://www.paarlpost.com/archive/290104/news.html (geraadpleeg op 14 Oktober 2008).

No comments: